BROWN RESEARCH

Edward Brown is op 6 Augustus 1930 op Kroonstad gebore. Sy ouers is Willem Stermerberg Brown en Maria Susanna Tempelhoff. Hulle is op 24 Augustus 1929 op Theunissen getroud. Eddie was hulle enigste kind.

Eddie se ouers was toegewyde NG Kerk-lidmate en Willem dien op verskeie kerkrade. Hy word later na Senekal verplaas, waar Eddie sy skoolloopbaan begin. Toe Willem na Leeudoringstad verplaas word, is daar nie ‘n hoërskool nie en Eddie moes sy skoolloopbaan in Klerksdorp voortsit, waar hy dan ook in 1947 matrikuleer. In die tyd was ds. DNJ du Toit die leraar op Leeudoringstad, ‘n man wat sy hand na die jong Eddie uitsteek en hom aanmoedig en help tot in die gemeentebediening.

Eddie Brown trou op 24 Augustus 1954 met Magdalena Maria Botha, dogter van ds. FJ Botha, vroeër ‘n leraar by die NG Gemeente Clocolan. Uit hulle huwelik is daar vier kinders gebore: Willie, Frans, Betsie en Eddie.

Oor Eddie skryf sy vrou: “Sy Christelike opvoeding het reeds as kind by hom die begeerte laat ontstaan om eendag predikant te word. Hy het nie ‘n `Damaskus-oomblik’ beleef voordat hy predikant sou word nie.”

Na matriek is hy na die Universiteit Pretoria waar hy in 1950 die BA (Admissie)-graad behaal, die BD-graad in 1953 en die lisensiaatdiploma in 1954, alles aan die Fakulteit Teologie (Afd B) aan die Universiteit Pretoria. Hy sit sy akademiese loopbaan in die VSA voort, aan die Union Theological Seminary in New York, waar hy in 1955 die STM (Magister in Scientia Theologica) onder prof John Bennet behaal. In 1960 behaal hy ‘n DTh- graad aan die Theological Seminary by Princeton University, onder leiding van prof L Loetscher.

In Amerika is prop Eddie Brown in 1954 en 1955 hulpleraar by Classon Avenue Presbyterian Church in Brooklyn, New York. En van 1958 tot 1959 medeleraar by die Hungarian Reformed Church of America, in Trenton, New York.

In 1960 keer Eddie en Magdaleen Brown terug na Suid-Afrika en word die leraarspaar by die NG Gemeente Durban-Wes, waar ‘n nuwe kerkgebou onder sy leiding opgerig word. In 1964 word hy senior lektor en hoof van die Departement Bybelkunde by die Fakulteit Opvoedkunde aan die Universiteitskollege van Zoeloeland. Hy verrig ook hulpdiens by die NG Sendingkerk in Natal. In 1968 word hy professor in die departement Kerkgeskiedenis en dekaan by die Fakulteit Teologie aan die Universiteit van Zoeloeland.

Op 1 Januarie 1975 word hy senior lektor in Ekklesiologie aan die Fakulteit Teologie op Stellenbosch, en vanaf 1976 professor. As opvolger van prof Tobie Hanekom trap hy diep spore in die akademie. In die twee en twintig jaar wat hy aan die fakulteit verbonde is, lewer hy ‘n onberekenbare bydrae tot honderde studente se akademiese vorming, en spesifiek hulle kennis van die algemene en vaderlandse kerkgeskiedenis. Hy het ‘n historiese bewussyn by sy studente gekweek, en die tientalle foto’s in die gange by die Fakulteit Teologie is ook sy nalatenskap.

Willie Brown volg in sy vader se voetspore, word predikant en doktoreer ook in Vaderlandse Kerkgeskiedenis. Hy was die leraar by die NG Gemeente Monte Vista in die Kaap, toe hy ‘n dag voor sy 45ste verjaarsdag onverwags aan ‘n hartaanval sterf.

Prof Eddie Brown aanvaar op 31 Desember 1995 sy emeritaat en gee nog twee jaar op ‘n kontrakbasis lesings aan die Kweekskool. Op 5 Oktober 1998 kry hy ‘n ernstige beroerte wat langtermyn gevolge het: Hy verloor die gebruik van sy regterkantse ledemate en ook sy spraak. In 2002 verhuis hy en Magdaleen na Bettiesbaai, waar hulle strandhuis in ‘n woonhuis omskep word. Teen 2005 het hy reeds so verswak dat hy na die tengersorg-eenheid van die Gerimed-kliniek vir bejaardes in Kleinmond oorgeplaas is.
Eddie Brown was meer as 15 jaar lank aan ‘n rystoel gebonde; hy sterf op 23 Junie 2014. ‘n Dankdiens word op 1 Julie 2014 deur ds. Nico Rabe op Kleinmond gehou, en huldeblyke word gelewer deur ‘n kleinseun, Willem Brown, en prof Dolf Britz van Bloemfontein.

Magdaleen skryf: “My man het sy lyding met soveel waardigheid gedra. Al kon hy nie meer verbaal of skriftelik kommunikeer nie, het sy oë altyd gepraat en geglimlag. Dit is die getuienis wat almal ervaar het. Een van sy oud-kollegas het gesê dat Eddie se lewe gedurende hierdie stil jare ‘n lewende preek was.” — Dr Gerdrie van der Merwe VDM (Jaarboek 2015).